Toonhoogte
Klaviertoonhoogte En Klimaat
Verandering Van Klaviertoonhoogte En Struktuur
Toonsverhoging
Toonsverlaging
Benodig U Klavier 'n Toonsverhoging Of Toonsverlaging?
Toonhoogte is die betreklike hoogheid of laagheid van 'n toon of klank soos die oor dit waarneem. Dit is 'n sintuiglike eienskap of kenmerk van klank en word aangegee as 'n frekwensie vir 'n bepaalde toon, in 'n bepaalde tydsduur, teen 'n bepaalde temperatuur. Die moderne klavier is ontwerp om die beste te klink op 'n toonhoogte van A-440 of C-523.3 Hertz (siklusse per sekonde), by A of C 'n oktaaf bokant middel C en dit word ook internasionale standaard- of konserttoonhoogte genoem. 'n Snaar produseer die beste klank teen 'n spanning van 70 persent van sy breekkrag, 'n mineur derde onder breekpunt en daarom behoort 'n klavier op toonhoogte gehou te word. Indien 'n klavier saam met ander instrumente gespeel word, behoort dit ook op toonhoogte gehou te word. Op standaardtoonhoogte het die klavier 'n ryk klank- en toon-omvang en kan dit ook saam met ander instrumente gebruik word. Dit is vanweë hierdie feit dat baie instrumente op 'n vaste toonhoogte gehou word en ander slegs klein aanpassings na onder of bo benodig wanneer dit gestem word. Indien die toonhoogte van u klavier verskil van A-440 Hertz, sal 'n aanpassing van toonhoogte gedoen moet word om dit terug op standaard te kry. Die oor word dan ook behoorlik geleer om te luister, want u sal altyd u musiek in die regte sleutel hoor. Deur altyd u klavier op standaardtoonhoogte te hou, skep u 'n behoudende stemstabiliteit, omdat die snare en struktuur van die klavier gebalanseerd bly.
Lees meer omtrent
Klavierstem Op Konserttoonhoogte
Klavierstemstabiliteit
Toonhoogte van klaviere daal normaalweg skerp tydens lang droë seisoene en styg nie weer naastenby tot waar dit voorheen was tydens die nat seisoene nie. 'n Verandering van klimaat is die hoof oorsaak van die verandering van toonhoogte. Dit is vanweë die feit dat die hoof akoestiese struktuur van die klavier, die klankbord, van hout vervaardig word. Bo en behalwe die feit dat 'n hout klankbord 'n uitsonderlike klank kan voortbring, reageer dit ook aanhoudend op klimaatsveranderinge. Wanneer die relatiewe humiditeit styg,Swel die klankbord, wat die vorm van die kroon vergroot en span dan die klavier se snare tot 'n hoër toonhoogte. In droë Tye plat die kroon van die klankbord af en verlaag die spanning van die snare om 'n daling in toonhoogte te veroorsaak. Die daling in droë seisoene oorskry normaalweg die styging in die natter seisoene, wat 'n algehele daling in toonhoogte tot gevolg het vir elke jaar wat die klavier nie gestem en nagesien is nie.
Lees meer omtrent
Temperatuur- En Humiditeitsbeheer
Hoe Beïnvloed Temperatuur- En Humiditeitsveranderinge My Klavier?
Humiditeitsveranderinge
Temperatuursveranderinge
Temperatuur- En Humiditeitsbeheer
Indien die klavier nie gereeld gestem word nie, sal die toonhoogte jaarliks al verder van standaardtoonhoogte daal vanwaar dit uiters moeilik vir 'n klavierstemmer sal word om dit terug na die verlangde spanningsvlak van standaardtoonhoogte op te trek. 'n Klaviertegnikus moet die spanning van meer as 200 snare verhoog wat 'n groot hoeveelheid spanning op die struktuur van die klavier plaas. Dit is onmoontlik om so 'n groot aanpassing aan die toonhoogte te maak en 'n stabiele stem te verkry na net een keer. Alle snare moet eers opgetrek word na hulle gewensde gemiddelde spanningsvlak, waarna 'n akurate finale stem gedoen kan word. Dit sal help om die spanningsvlak van die snare te stabiliseer op die gewensde spanningsvlak. Indien 'n klavier vir 'n lang tydperk nie gestem is nie, mag die toonhoogte daarvan reeds ver onder A-440 gedaal het. Dit beteken dat elk van die ongeveer 220 snare heelwat stywer gemaak moet word en daar baie ekstra spanning op die struktuur van die klavier by gevoeg word. Die proses word bemoeilik omdat, soos elke snaar stywer gespan word, veroorsaak die nuwe spanning dat die toonhoogte van snare wat vooraf aangepas is, verander. Daarom is dit onmoontlik om 'n groot verandering van toonhoogte te maak en 'n akurate finale stem in een stap te verkry. 'n Toonsverhoging moet eers gedoen word, waartydens aal die snare opgetrek word na die gewensde gemiddelde spanningsvlak. Indien 'n klavier se toonhoogte hoër as standaardtoonhoogte is, moet dit 'n toonsverlaging ondergaan om snaarspanning te verminder tot ongeveer gewensde spanningsvlak. Slegs dan kan die klavier akuraat gestem word. Akurate finale stem is slegs moontlik wanneer die snare so na aan die gewensde spanning is, dat slegs klein aanpassings tydens 'n stem gemaak hoef te word. Hierdie klein veranderinge steur dan nie die stem van ander snare nie.
Toonsverhoging is die proses wat gevolg word om 'n klavier weer op standaardtoonhoogte te kry. Wanneer 'n klavier vir 'n lang tydperk nie gestem was nie, dit aan klimaatsveranderinge en seisoenale toestande blootgestel is en dit hoorbaar vals, ontstemd en onder toonhoogte is en nie saam met ander instrumente gebruik kan word nie, sal dit nodig wees om 'n toonsverhoging te laat doen alvorens 'n finale stem gedoen kan word. Die toonsverhoging en stem geskied dan oor twee afsprake met 'n redelike tydsverloop tussen-in, sodat die snare en struktuur van die klavier by die nuwe spanning kan aanpas. Let asseblief daarop dat snare mag breek tydens 'n toonsverhoging en dat die vervang van snare vir die rekening van die kliënt is. Die koste van 'n toonsverhoging is dieselfde as dié van 'n stem, alhoewel die toonsverhoging in 'n korter tyd afgehandel word. Na afloop van 'n toonsverhoging en stem, behoort 'n klavier weer binne drie tot ses maande gestem te word en daarna slegs een tot tweemaal per jaar ten einde stabiliteit te verseker.
'n Toonsverlaging word ook soms op ouer klaviere gedoen wanneer die klavierstemmer van opinie is dat die raam of snare nie meer die spanning van standaardtoonhoogte sal kan hanteer nie, of indien die klavier so in toonhoogte gestyg het dat dit hoorbaar vals, ontstemd en bokant toonhoogte is en ook nie saam met ander instrumente gespeel kan word nie. Dit word ook gedoen voordat 'n klavier finaal gestem word. Die toonsverlaging en stem word ook oor twee afsprake gedoen met 'n redelike tydsverloop tussen-in, sodat die snare en struktuur van die klavier by die nuwe spanning kan aanpas. Die koste van 'n toonsverlaging is dieselfde as dié van 'n stem, alhoewel 'n toonsverlaging in 'n korter tyd afgehandel word. Na afloop van 'n toonsverlaging en stem, behoort 'n klavier weer binne drie tot ses maande gestem te word en daarna slegs een tot tweemaal per jaar om stabiliteit te verseker.
Indien u vermoed dat u klavier 'n verandering van toonhoogte benodig, naamlik 'n toonsverhoging of toonsverlaging, Kontak Ons of maak 'n afspraak.
Hierdie bladsy is ook in Engels beskikbaar
Kallie Swanepoel Klavierstemmers is geaffilieer by en geakkrediteer deur die
Suid-Afrikaanse Vereniging vir Professionele Klavierstemmers
Kallie Swanepoel Klavierstemmers BK Registrasienommer 2003/023549/23
Terug Na Bo Aan Kallie Swanepoel Klavierstemmers | Verandering van Klaviertoonhoogte
Geskep deur Kallie Swanepoel Klavierstemmers