Kallie Swanepoel Klavierstemmers Pretoria Gauteng Suid-Afrika logo - 'n vleuelklavier omring met die teks "Kallie Swanepoel Klavierstemmers" bo op linkerkantste hoek van die bladsy

 

Laat ons harmonie in u lewe terugbring

Kallie Swanepoel Klavierstemmers

Klavier Klawerbord vertikaal teen regtersy van bladsy by Kallie Swanepoel Klavierstemmers Pretoria Gauteng Suid-Afrika

Kallie Swanepoel Klavierstemmers
Gereelde vrae en antwoorde


Hoe Moet Ek Omsien Na My Klavier?
Wat Is Klavierstem?
Wat Is Klaviertonering?
Wat Is Die Verskil Tussen Klaviertonering En Klavierstem?
Hoe Gereeld Moet My Klavier Gestem Of Nagesien Word?
Waarom Moet My Klavier Gereeld Versien Word?
Wat Is Regulering En Hoe Beïnvloed Dit My Klavier Se Werking?
Wat Is Die Meganiek Van Die Klavier En Waarom Moet Dit Instand Gehou Word?
Wat Is Die Pedaalstelsel?
Wat Is Die Klawerbord?
Waarom Is Restourasie Of Herbou Van Die Meganiese Stelsels Dikwels Nodig Voordat Regulering Gedoen Kan Word?
Wat Is Restourasie?
Wat Is Herbou?
Hoe Beïnvloed Temperatuur- En Humiditeitsveranderinge My Klavier?
Sal Ek Nie Minder Uitgawes En Meer Genot Hê Van 'n Elektroniese Gesintetiseerde Klavier Nie?
Waar Kry Ek 'n Gekwalifiseerde Persoon Om My Klavier Te Diens En In Stand Te Hou?
Hoe Gemaak Indien Ek Meer Vrae Het?

Hoe Moet Ek Omsien Na My Klavier?

Beskou en behandel u klavier as 'n waardevolle meubelstuk. Hou dit altyd skoon en bly weg daarvan om blombakke, potplante of drankies daarop neer te sit. Vloeistof wat daarop gestort word, kan ernstige skade veroorsaak, waarvan die herstelwerk gelykstaande kan wees aan die koste van 'n groot restourasie. Nuwe klaviere het gewoonlik 'n polyester- of satyn-afwerking, word slegs met 'n sagte klam lappie afgevryf en versigtig met 'n sagte lappie afgedroog en hoef nie gepoleer te word nie. Ouer klaviere het gewoonlik "French polish"-afwerking en benodig meer sorg. U kan 'n produk gebruik wat die ou politoer laat herleef, dit met 'n sagte lappie aanwend en opvryf.

Lees meer omtrent


Die Skoonmaak Van U Klavier
Geen Boeke, Swaar Voorwerpe, Blomplante En Drinkgoed Op Die Klavier Nie
Klavierherstelwerk
Klavierrestourasie

Wat Is Klavierstem?

Klavierstem is die proses waarin harmonie in die klavier bewerkstellig word deur klein, delikate veranderinge te maak aan die toonhoogte en dus ook die spanning van die snare om dit in stemming te bring met die vereisde stel tone of stemstelsel wat normaalweg gelykwaardige stemming is.

Klavierstem is glad nie klavierregulering, klavierherstelwerk of enige iets wat te make het met die meganiese werkinge van die klavier nie. Klavierstem is ook nie die herstel van toonkwaliteit, of 'n groot toonhoogte verandering aan die instrument nie.

Lees meer omtrent


Die Kuns Van Klavierstem
Klavierregulering
Klavierherstelwerk
Definisie Van Klaviertonering
Toonhoogte

Wat Is Klaviertonering?

Klaviertonering sluit 'n hoeveelheid verskillende gespesialiseerde herstelwerk en verstellings wat op die klavier uitgevoer word in om die klank- of toonkwaliteit te verbeter en na smaak te verander. Klaviertonering is die proses van hamerfatsoenering deur die vyl, afskuur en stryk van hamers, die hamers te verhard of te versag deur die aanwending van chemiese verharder of te prik met 'n stel toneernaaldeKlaviertoneernaaldeof deur die hamers te stoom, hamer- en snaarversoening, snaarverstelling en/of -herstel by hulle hegpunte, en/of klavierstem en klavierregulering om klank- en toonkwaliteit van die klavier te verbeter. Harde hamers sal 'n skerper, harder of blikkerige klank voortbring, terwyl sagte hamers 'n sagter of meer wollerige klank sal produseer.

Lees meer omtrent


Definisie Van Klaviertonering
Klavierherstelwerk
Klavierregulering
Die Kuns Van Klavierstem

Wat Is Die Verskil Tussen Klaviertonering En Klavierstem?

Klaviertonering is die verbetering of verandering van die klank en toonkwaliteit van die klavier, terwyl klavierstem beskryf kan word as die proses wat gevolg word om 'n klavier in stemming of harmonie te bring deur klein veranderinge te maak aan die toonhoogte en dus aan die spanning van die snare.

Lees meer omtrent


Definisie Van Klaviertonering
Die Kuns Van Klavierstem
Toonhoogte

Hoe Gereeld Moet My Klavier Gestem Of Nagesien Word?

Alle fabrikante stem saam dat 'n nuwe klavier vier keer gedurende die eerste jaar en twee keer per jaar daarna gestem moet word. 'n Konsertklavier moet voor elke uitvoering gestem word en 'n klavier in 'n professionele klankateljee drie- tot vier keer per week. Dit is raadsaam om u klavier ten minste een keer per jaar te laat stem, maar verkieslik tweekeer vanweë seisoensveranderinge selfs al speel u net af en toe klavier vir ontspanning. U kan egter u klavier so gereeld stem as wat u wil, om aan u persoonlike musikale behoeftes te voldoen en dan onderhandel vir afslag omdat u gereeld laat stem. Tydens die klavierstemafspraak sal die klaviertegnikus, ook genoem klavierstemmer, die klavier nagaan en aanbevelings doen omtrent tonering en regulering, wat die versieningskomponente van klavier-instandhouding is. Maak slegs gebruik van 'n gekwalifiseerde klaviertegnikus ook genoem klavierstemmer.

Lees meer omtrent


Gereelde Klavierstem
Gereelde Stemming
Laat U Klavier Gereeld Stem
Klaviertonering
Klavierregulering
Maak Slegs Gebruik Van 'n Gekwalifiseerde Professionele Persoon Om U Klavier Te Stem
Keuse Van 'n Klaviertegnikus Ook Genoem Klavierstemmer

Waarom Moet My Klavier Gereeld Versien Word?

U klavier is 'n waardevolle instrument en moet gereeld deur 'n professionele persoon versien word om onnodige, duur herstelwerk te voorkom. Materiale soos hout en vilt, waarvan die klavier vervaardig is, maak dit onderworpe aan klimaatsveranderinge. Warm en koue, of nat en droë uiterstes, veroorsaak inkrimping en uitsitting van die materiale en beïnvloed klankgehalte, toonhoogte, aanslag en speelbaarheid. 'n Ontstemde klavier of power aanslag, kan selfs beginner musikante ontmoedig.

Lees meer omtrent


Temperatuur- En Humiditeitsbeheer
Humiditeitsveranderinge
Temperatuursveranderinge
Temperatuur- En Humiditeitsbeheer
Klaviertoonhoogte En Klimaat

Wat Is Regulering En Hoe Beïnvloed Dit My Klavier Se Werking?

Regulering is die instelling van die meganiese onderdele van die klavier vir optimum speelbaarheid om te kompenseer vir slytasie, kompaktering en vestiging van vilt en leer, sowel as dimensionele veranderinge in hout- en vilt-onderdele as gevolg van humiditeit- en temperatuurwisselinge. Die drie stelsels wat deur regulering geïmpliseer word, is die meganiek, pedaalstelsel en klawerbord.

Lees meer omtrent


Wat is klavierregulering?
Humiditeitsveranderinge
Temperatuursveranderinge

Wat Is Die Meganiek Van Die Klavier En Waarom Moet Dit Instand Gehou Word?

Die meganiek is die meganiese deel van die klavier wat die beweging van die vingers op die klawers na die hamers oordra, wat op hulle beurt dan weer teen die snare slaan. Indien u binne-in u klavier kyk, sal u 'n giet-yster raam sien, met staal- en koper omsponne snare, oor 'n groot houtkonstruksie wat die klankbord is en wat alles deel vorm van die rug van die klavier. As u dit van nader bekyk, sal u 'n stelsel van hefbome, vere en hamers aantref, wat hoofsaaklik uit hout en vilt bestaan en gekoppel is aan die klawerbord, wat die hamers teen die snare laat slaan wanneer die klawers afgedruk word en dit word die meganiek genoem. Dit bestaan uit meer as 9 000 onderdele wat fyn kritiese verstellings vereis om te kan reageer op die handelinge van die pianis. Dit sluit die demperstelsel in wat die meganiese gedeelte van die klavier is waarmee die trilling van die snaar beëindig word wanneer die klawer gelos word om na die rusposisie terug te keer en word beheer deur die klawer- en pedaalstelsels. Net soos alle ander instrumente wat onderworpe is aan slytasie, is dit uiters noodsaaklik dat hierdie belangrike onderdele van die klavier gereeld nagesien word deur 'n gekwalifiseerde klaviertegnikus ook genoem klavierstemmer. Elke noot behoort perfek gereguleer te word, sodat dit die optimale werkverrigting kan lewer. Die pedale sal ook van tyd tot tyd verstellings benodig.

Wat Is Die Pedaalstelsel?

Die pedaalstelsel is 'n versameling van hefbome, stawe en vere wat die pedale aan die meganiek koppel ten einde sostenuto en volume te beheer.

Wat Is Die Klawerbord?

Die klawerbord of klaviatuur wat in 'n moderne klavier uit sewe oktawe en 'n mineur derde of 88 klawers bestaan, is die gedeelte van die meganika van die klavier waarmee die pianis die klavier bespeel en vanwaar aanslag beheer word. Die klawers dien as hefbome om die meganiek in beweging te bring sodat die hamers die snare kan slaan om klank voort te bring.

Waarom Is Restourasie Of Herbou Van Die Meganiese Stelsels Dikwels Nodig Voordat Regulering Gedoen Kan Word?

Indien die onderdele erg verweer is, of indien daar water- of motskade is, kan die klavier nie na behore gereguleer word sonder dat daar eers herstelwerk gedoen of onderdele vervang is nie.

Lees meer omtrent


Klavierrestourasie
Klavierherstelwerk
Klavierregulering

Wat Is Restourasie?

Restourasie is die proses waarin u klavier weer tot in 'n goeie toestand gerestoureer word deur dit skoon te maak, herstelwerk te doen en om dit tot die optimum werkverrigting in te stel en onderdele te vervang waar nodig. Indien u klavier se toestand so agteruit gegaan het dat 'n standaard restourasie nie die klavier bruikbaar sal maak nie, moet dit herbou word.

Lees meer omtrent


Klavierrestourasie

Wat Is Herbou?

Wanneer 'n klavier herbou word, word dit heeltemal uitmekaar gehaal, evalueer en herstel waar nodig en word geslete of beskadigde onderdele vervang. Die klavier word dan aanmekaargesit, getoets en verstel tot die oorspronklike toestand.

Hoe Beïnvloed Temperatuur- En Humiditeitsveranderinge My Klavier?

Warm en koue, of droë en nat uiterstes is nadelig vir u klavier. In droë toestande daal toonhoogte, terwyl dit styg in vogtige toestande. Herhaaldelike wisseling in humiditeit kan veroorsaak dat die klankbord bars of dat dit begin raas. Uiterste droë toestande kan ook die lym laspunte van die klankbord en ander hout gedeeltes van die klavier verswak en laat lostrek. Klammigheid kan veroorsaak dat snare roes. 'n Klavier funksioneer die beste by redelike konstante toestande, nie te nat of droog, verkieslik teen 'n temperatuur van 19 grade Celsius en 42 persent relatiewe vogtigheid.

Lees meer omtrent


Temperatuur- En Humiditeitsbeheer
Humiditeitsveranderinge
Temperatuursveranderinge
Temperatuur- En Humiditeitsbeheer
Klaviertoonhoogte En Klimaat

Sal Ek Nie Minder Uitgawes En Meer Genot Hê Van 'n Elektroniese Gesintetiseerde Klavier Nie?

Die pragtige, natuurlike, unieke klank van 'n akoestiese klavier word verkry deur die samevoeging van hout, metaal, leer en vilt. Gesamentlik skep dit 'n klank soos geen ander instrument ter wêreld kan klink nie. Howel 'n elektroniese sintetiseerder die klank van 'n akoestiese klavier baie goed kan naboots, sal dit nooit sy gelyke kan wees nie. Die kunsmatige klank en aanslag van 'n elektroniese instrument, sal nooit met die van 'n akoestiese klavier kan meeding nie.

Lees meer omtrent


Akoestiese of digitale klavier

Waar Kry Ek 'n Gekwalifiseerde Persoon Om My Klavier Te Diens En In Stand Te Hou?

Ons beveel aan dat u slegs gebruik maak van die dienste van 'n lid van die Logo van die Suid-afrikaanse Vereniging vir Professionele KlavierstemmersSuid-Afrikaanse Vereniging vir Professionele Klavierstemmers, waarvan ons lid is, om enige klavierdienste binne die grense van Suid-Afrika te lewer. Hy of sy sal in besit wees van 'n identiteitskaart Suid-afrikaanse Vereniging vir Professionele Klavierstemmers identiteitskaart wat lidmaatskap aan die vereniging sal bevestig, met 'n vervaldatum waarop lidmaatskap hernu moet word.

Lees meer omtrent


Maak Slegs Gebruik Van 'n Gekwalifiseerde Professionele Persoon Om U Klavier Te Stem
Keuse Van 'n Klaviertegnikus Ook Genoem Klavierstemmer

Hoe Gemaak Indien Ek Meer Vrae Het?

Indien enige van u vrae omtrent klaviere steeds onbeantwoord is, of u die inligting waarna u opsoek is, nie op hierdie webwerf kry nie, hoor ons graag van u. kontak ons gerus.

Hierdie bladsy is ook in Engels beskikbaar

Gaan Na Navigasie Van Bladsy

Kallie Swanepoel Klavierstemmers is geaffilieer by en geakkrediteer deur die Logo van die Suid-afrikaanse Vereniging vir Professionele KlavierstemmersSuid-Afrikaanse Vereniging vir Professionele Klavierstemmers

Kallie Swanepoel Klavierstemmers BK Registrasienommer 2003/023549/23

Terug Na Bo Aan Kallie Swanepoel Klavierstemmers | Gereelde Vrae

Valid HTML 4.01 Transitional vir Kallie Swanepoel Klavierstemmers | Gereelde Vrae  Valid CSS vir Kallie Swanepoel Klavierstemmers | Gereelde Vrae!

Geskep deur Kallie Swanepoel Klavierstemmers
Pretoria Gauteng Suid-Afrika
Opgedateer op 20 Maart 2011
Kopiereg © 2006
Kallie Swanepoel Klavierstemmers | Gereelde Vrae